Edo Heyns: Ontmoet die labrador van die wynwêreld

Sauvignon Blanc is een van dié internasionale wynsuksesstories van die afgelope dekade. Nieu-Seeland is op die kruin van hierdie golf en dit is ook hier waar die Internasionale Sauvignon Blanc-konferensie verlede week aangebied is. Edo Heyns was een van vier Suid-Afrikaners wat dié konferensie bygewoon het. Hy doen verslag.

 

“Dit is die labrador van die wynwêreld – die een wat ál die drukkies kry, gewild en goedgemanierd is, maar ook nie bang is om in die modder te speel nie,” beskryf een van die sprekers, die Britse wynmeester Jane Skilton, die onopgesmukte kultivar wat vir baie hul standaard-lafenis is.

Op dieselfde trant meen die gesiene wynskrywer Oz Clarke­ dat sauvignon blanc gemaak is van vrugte en vreugde en dat dit juis die herkenbaarheid van hierdie druifsoort is wat tot sy wêreldwye gewildheid gelei het.

 

Dit is ook in Suid-Afrika die geval, waar sauvignon blanc verreweg die gewildste enkelkultivarwyn is, met cabernet sauvignon in die tweede plek. Sauvignon blanc is boonop Suid-Afrika se grootste verpakte enkelkultivar wat uitgevoer word, meer as 40 miljoen liter verlede jaar.

Suid-Afrikaners in sauvignon-mekka. Van links is Charles Hopkins (De Grendel), Carien Coetzee (Universiteit Stellenbosch) en Thys Louw (Diemersdal). Foto: Edo Heyns

Die Kiwi’s vat (al weer) voor

Soos op die rugbyveld het die Kiwi’s egter tans internasionaal die oorhand met sauvignon blanc.

Aanplantings in Marlborough – die Nieu-Seelandse streek wat sinoniem is met hierdie wynsoort – het sedert 2000 verdriedubbel.

Amerika is nou hul grootste uitvoermark en dié aantreklike wynmark hou nog aansienlike groei in.

Brittanje, China, Hongkong en Australië ontwikkel ook toenemend ’n smaak vir hulle sauvignon blanc.

Terwyl Suid-Afrika juis die diversiteit van sy verskillende wynstyle bemark, het Nieu-Seeland gebaat by ’n sterk klem op sauvignon blanc – wat meer as 70% van sy totale wynproduksie verteenwoordig. Dit is verstommend om te dink dat dié wêreldkrag in sauvignon blanc dit eers 43 jaar gelede aangeplant het.

Die Amerikaanse wynskrywer en een van die sprekers by die konferensie, Matt Kramer, beklemtoon dat Amerikaners hou van sukses en dat die gewildheid van sauvignon blanc ’n sogenaamde sneeubaleffek geniet, waarby ook ’n “mate van geluk betrokke was”.

Die vraag hoe hierdie sukses volgehou kan word, was ’n deurlopende tema van die program. Veral omdat die chardonnay van Nieu-Seeland se “buureiland”, Australië, ook van krag tot krag gegaan het, totdat verkope uiteindelik getuimel het.

Die wynkommentator en spreker by die konferensie, Robert Joseph, was deel van ‘n koor wat beklemtoon het dat dit belangrik is dat sauvignon blanc homself herontwerp, “sonder om die baba saam met die badwater uit te gooi”.

 

Geleenthede vir Suid-Afrika

Suid-Afrika is gereeld genoem as een van die poten­siële bedreigings vir Nieu-Seeland se sauvignon-sprokiesverhaal, veral omdat ons vergelykbare kwaliteit teen ’n laer prys kan lewer.

Volgens De Grendel se keldermeester, Charles Hopkins, wat Suid-Afrika op ’n paneelbespreking verteenwoordig het, het Nieu-Seeland die sauvignon blanc-kategorie as geheel tot die volgende vlak geneem.

Waar Marlborough se sauvignon blanc-wyne ’n baie herkenbare, soortgelyke styl het, bied Suid-Afrika heelwat meer verskeidenheid.

Dis juis hierdie verskeidenheid wat, volgens Thys Louw van Diemersdal, voorsitter van die Sauvignon Blanc Interest Group (SBIG), vir Suid-Afrikaanse wynmakers die oorhand oor sy Kiwi-eweknieë kan gee.

“Jy kan in Suid-Afrika van Bamboesbaai tot Plettenbergbaai baie lekker, maar tog verskillende wynstyle teëkom. In Marlborough is hulle besig om ’n sterker wyn van oorsprongstelsel vir die verskillende valleie staan te maak om diversiteit te beklemtoon. Ons het reeds daardie verskeidenheid in Suid-Afrika!”

 

Volgens hom is dit hoog tyd dat sauvignon blanc in Suid-Afrika in ’n ernstiger lig gesien word, veral omdat dit ’n kritieke rol speel in heelparty ondernemings se kontantvloei. “Dis gereeld die enigste kultivar wat meer in verpakte vorm as in grootmaat uitgevoer word. Die mark neem dit ernstig op!”

Sauvignon blanc se kwaliteit het die afgelope vyf jaar oor verskillende streke noemenswaardig toegeneem en Louw beklemtoon dat kelders wat hierdie wynstyl produseer, meer moet saamwerk om die kultivar en kategorie te bemark.

Een van die invloedrykste Kiwi’s by die konferensie, Erica Crawford van die Love Block-handelsmerk, meen dat Suid-Afrika die volgende “groot mode” in die wynwêreld kan raak.

“Suid-Afrika is nou waar Nieu-Seeland ’n paar jaar gelede was. Julle moet nou die geleenthede aangryp, want al die tekens is daar,” het sy benadruk.

 

Laai die Koerant artikel af hier: ARTIKEL

 

Artikel van: Netwerk24

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *