No products in the cart.
Grenadellakoek
Daar is niks wat so goed saam met ‘n koppie tee of ‘n glas wyn gaan soos koek nie! Dis die beste bederf as jy hou daarvan om te bak. Tienie en Amelie het nou die dag vir ons ryp grenadellas gaan pluk wat ons in die lip-lek-lekker Grenadellakoek gebruik het!
Grenadellakoek
Beslag:
3 eiers
1 ½ koppie (300g) suiker
1 ½ koppie (210g) koekmeel
pulp van 5 grenadellas (of 2 blikkies 110g elk grenadellapulp)
125g botter
¾ koppie (190ml) melk
1 eetlepel (15ml) bakpoeier
versiersuiker:
2 koppies (280g) versiersuiker, gesif
125g botter
Pulp van 2 grenadellas/ ½ blikkie pulp
KOEK
Voorverhit die oond tot 180 °C. Smeer en voer 2 x 20cm koekpanne uit.
Gebruik die mengbak en die klitshegstuk van ‘n elektriese menger en klits die eiers en suiker tot lig en donsig- minstens 5 min. Sif die meel 3x en voeg die meel by die eiermengsel en roer tot gemeng. Roer die grenadellapulp in.
Plaas ‘n kastrol oor matige hitte en smelt die botter in die melk. Haal van die stoof af. Stel die menger op lae spoed en voeg die melk baie stadig in ‘n egalige straal by die beslag. Dit sal ‘n redelik loperige beslag vorm. Sprinkel die bakpoeier bo-oor die beslag en roer om dit daarby in te meng. Werk fluks en vinnig en verdeel die beslag tussen die bereide koekpanne. Bak 20-25min of totdat die middel van die koek ‘terugspring’ as jy liggies daarop druk. Laat dit in die panne afkoel voordat jy dit uitkeer.
VERSIERSEL
Gebruik die mengbak en die spaangegstuk van ‘n elektriese menger en room die versiersuiker en botter saam. Voeg die pulp by en roer deur. Smeer die versiersel tussenin en bo-op die koek.
Uit Markdag deur Callie Maritz en Mari-Louis Guy.







